Back to top

Primary tabs

Staatsrede deur Sy Eksellensie Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika ter geleentheid van die gesamentlike sitting van die Parlement Kaapstad

Die Speaker van die Nasionale Vergadering (NV),
Die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunk-Speaker van die NV en adjunkvoorsitter van die NRP,
Adjunkpresident van die Republiek, agbare Cyril Ramaphosa,
Voormalige adjunkpresident Kgalema Motlanthe,
Agbare Hoofregter van die Republiek en al die gewaardeerde lede van die regbank, agbare ministers en adjunkministers,
Premiers en Speakers van provinsiale wetgewers,
Voorsitter van Salga, en die leierskap van die plaaslike regering,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Die Hoofde van die Hoofstuk 9-instellings,
Leiers van alle sektore,
Lede van die diplomatieke korps,
Agbare lede,
Vooraanstaande gaste
Mede-Suid-Afrikaners,
Goeienaand, sanibonani, molweni, riperile, dumelang, ndi madekwana.

Dit is vir my ’n groot eer om u toe te spreek tydens hierdie eerste staatsrede van die vyfde demokratiese administrasie.

Laat ek begin deur ons innige meegevoel oor die heengaan van die Sekretaris van die Parlement, mnr Michael Coetzee, uit te dra.

Sy bydrae tot die stryd om vryheid en demokrasie sal nooit vergeet word nie.
Ons het verlede week ook ons moeder, Mama Epainette Mbeki, verloor. Haar leiding en wysheid sal terdeë gemis word. Ons betuig ons innige meegevoel aan die Mbeki-familie.

Ons harte gaan uit na die families van die SANW-lede wat vandag gesterf het in ’n tragiese helikopterongeluk in Mpumalanga tydens ’n oefenkamp. Ons wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe.

Landgenote,
Ons het onlangs op 7 Mei ’n suksesvolle nasionale algemene verkiesing gehou. Ons sien daarna uit om met al die partye in die Parlement saam te werk in die proses om Suid-Afrika vorentoe te neem.

Tydens die staatsrede in Februarie het ek oor die goeie vordering van 20 jaar van vryheid en demokrasie uitgewei.

Ons het gesê dat Suid-Afrika ’n veel beter plek is om te woon as wat dit in 1994 was, en dat die lewens van miljoene van ons mense verbeter het.

Maar, soos blyk uit die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) en die Presidensiële Oorsig oor 20 jaar, raak die drie uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid nog steeds die lewens van baie mense.

Namate ons die tweede fase van ons oorgang van apartheid na ’n nasionale demokratiese samelewing betree, moet ons radikale sosio-ekonomiese transformasie teweeg bring om die drie uitdagings die hoof te bied.

Verandering sal nie sonder ’n verreikende ingrypings plaasvind nie.

Ons het in ’n program van aksie gegrond op die ANC-manifes en die NOP in werking gestel.

Hiervolgens is die ekonomie ons hoofprioriteit. Ons is daarvan oortuig dat dit die doeltreffendste wapen in die stryd teen armoede die skepping van behoorlike werk is en dat werkskepping vinniger ekonomiese groei vereis.

Ons het ’n groeikoers van 5% teen 2019 as mikpunt gestel. Om dit te bereik, moet ons verskeie maatreëls en ingrypings implementeer om die ekonomie te stimuleer.

Ons het hierdie teiken in ’n moeilike tyd gestel. Die ekonomie presteer die afgelope drie jaar onder sy potensiaal en verskeie huishoudings gaan onder moeilike finansiële omstandighede gebuk.

Die trae groei is gedeeltelik deur die wêreldwye ekonomiese insinking veroorsaak maar ook deur plaaslike toestande, soos die uitgerekte en by tye gewelddadige stakings, asook energietekorte.

Gegewe die effek van die onhoudbare omgewing van arbeidsverhoudinge op die ekonomie is dit noodsaaklik dat maatskaplike vennote byeenkom en die gewelddadige aard van stakings oordink.

Maatskaplike vennote sal ook oor die ongelykheid in lone moet beraadslaag. Aan die kant van die regering sal ons gedurende hierdie termyn die moontlikheid van ’n nasionale minimum loon ondersoek om die ongelykheid in inkomste die hoof te bied.

Adjunk-President Cyril Ramaphosa sal binne die bestek van Nedlac met maatskaplike vennote beraadslaag.

Tweedens sal die Regering help met die implementering van die deurslaggewende Raamwerkooreenkoms vir ’n Volhoubare Mynboubedryf wat verlede jaar deur die arbeid- en die sakesektor en die Regering aangegaan is, onder leiding van die voormalige adjunkpresident Kgalema Motlanthe.

Die proses sal nou deur die President gelei word.

Ons sal ons onderneming om behuising en ander dienste te lewer om myndorpe te vernuwe, nakom, ingevolge die Oktober 2012-ooreenkoms tussen die sakesektor, die regering en georganiseerde arbeid.

Die ooreenkoms sal fokus op die myngebiede van Matlosana, Emalahleni, Sekhukhune, Lephalale, Wes-Rand en Matjhabeng.

’n Interministeriële komitee oor die Heropbou in Myngemeenskappe in Nood is gestig onder die leierskap van die minister in die presidensie verantwoordelik vir beplanning, prestasiemonitering en -evaluering, mnr Jeff Radebe.

Die lede van die komitee sluit in die Ministers van Minerale Hulpbronne, Water en Sanitasie, Handel en Nywerheid, Maatskaplike Ontwikkeling, Arbeid, Menslike Nedersettings, Gesondheid, Ekonomiese Ontwikkeling en Finansies.

Om die lewensomstandighede vir mynwerkers verder te verbeter, monitor die regering tans mynmaatskappye se nakoming van Mynbouhandves-teikens, met betrekking tot die verbetering van die lewensomstandighede van werkers.

Van maatskappye word verwag om hostelle in familie-eenhede te omskep, ’n besettingskoers van slegs een persoon per kamer toe te laat en opsies vir huiseienaarskap vir mynwerkers te fasiliteer.

Ons vra maatskappye om die 2014-sperdatum vir die teikens na te kom en gehoor te gee mynwerkers se reg tot waardigheid.

Agbare lede,
Vooraanstaande gaste,
Die lae vlak van beleggings is ’n belangrike beperking op ekonomiese groei. Ons is vasbeslote om met die private sektor saam te werk om struikelblokke tot belegging uit die weg te ruim.

Ons wil graag sien dat die private sektor net soveel vertroue as die staatsdiens in die ekonomie toon.

Ons sal die sakesektor bly betrek by die bevordering van inklusiewe groei om ’n meer welvarende samelewing te bou. In hierdie verband sal ek binnekort ’n vergadering met die Presidensiële Sakewerkgroep belê.

Ná die laaste vergadering van die werkgroep verlede jaar is ses werkbane geskep wat oplossings bespreek het vir die struikelblokke om sake in Suid-Afrika te doen.

Eienaars en uitvoerende hoofde van groot maatskappye het ook hierdie kwessies geopper tydens drie aparte, intensiewe werksessies by die Mahlamba Ndlopfu-landgoed in November en Desember verlede jaar.

Die volgende vergadering van die werkgroep sal die vennootskap vir inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling bevorder.

Mede-Suid-Afrikaners,
Ons moet daadwerklik optree om die land se energiebeperkings die hoof te bied om ’n bevorderlike omgewing vir groei te skep.

Die suksesvolle elektrifiseringsprogram, wat die lewens van baie huishoudings verander het, is bereik deur kunsmatige elektrisiteitsreserwes te benut, wat nie bedoel is vir massa-energie-verspreiding nie.

Hierdie situasie noodsaak ’n radikale transformasie van die energie-sektor om ’n volhoubare energievermenging te skep bestaande uit steenkool-, son-, wind-, hidro-, gas- en kernkrag.

Die transformasie sal strukturele veranderinge vereis in die wyse waarop staatsdepartemente, staatsbeheerde maatskappye en die nywerheid die energie-uitdagings aanpak.

Die energieplan verg kapitaal en menslike hulpbronne in die energiesektor.
Ons sal ook innoverende benaderings moet identifiseer om die regering se verkryging en lewering in die energie-sektor te versnel.

Om die institusionele kapasiteit voor te berei, omskep ons tans die Nasionale Kernreguleerder en Uitvoerende Koördinerende Komitee van Energie van die Kabinet in die Kabinetsubkomitee vir Energiesekerheid.

Die subkomitee sal verantwoordelik wees vir die toesig, koördinering en bestuur van aktiwiteite van die energie-sektor.

Die subkomitee sal ook verseker dat Eskom die ondersteuning ontvang wat dit benodig om sy mandaat uit te voer en dat dit gefokus bly op die bereiking van sy doelwitte en teikens.

Om ons doelwitte vir energiesekerheid te bereik, moet staatsbeheerde maatskappye in die energiesektor, soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en die Sentrale Energiefonds, by die geherdefinieerde rolle aanpas om hierdie doelwitte te bereik.

Vir alle energievorme moet werk op tegniese vlak gedoen word, veral vir kernkrag en skaliegas, om befondsing, veiligheid, ontginning en die plaaslike vervaardiging van komponente te verbeter.

Kernkrag het die vermoë om meer as 9 000 megawatt op te wek, en skaliegas word beskou as ’n klemverskuiwing vir ons ekonomie.

Ons sal skaliegas as opsie binne die raamwerk van ons goeie omgewingswette nastreef.

Daar is ook ’n paar dringende kwessies waarby ons in die kort termyn sal betrokke raak. Vordering aan die bou van die Medupi-kragstasie sal versnel word.

Planne vir die finansiering van die volgende groot steenkoolkragsentrale, Coal 3, sal bespoedig word sodat die verkrygingsproses kan begin.

Ons sal ook voortgaan met die tenderfase van die program vir onafhanklike kragverskaffers van hernubare energie om te baat by wind-, son-, biomassa- en ander tegnologie wat landelike ontwikkeling kan bevorder.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,
Ons soek ook buite ons grense na bronne vir energiesekerheid.

In Oktober verlede jaar het ons die Grand Inga-hidrokragprojekverdrag met die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo onderteken. Hierdie reuse- strategiese projek het die potensiaal om 40 000 megawatt hidro-elektrisiteit op te wek.

Ons land sal geweldig by hierdie mylpaalprojek baat.

Om gereed te wees vir die implementering van die energieplan, moet ons wetgewing finaliseer wat verband hou met die herstrukturering van die energiebedryf soos bepaal deur die Wetsontwerp op Onafhanklike Stelsel- en Markoperateurs, die Geïntegreerde Hulpbronplan en ander beleid rakende die energiesektor.

Agbare lede,
Vooraanstaande gaste,

Ons is ’n nasie aan die werk.

Bykomend tot die groot energiesekerheidsingrypings gaan ons voort om die Nasionale Infrastruktuurplan landwyd, onder toesig van die Presidensiële Infrastruktuur-koördineringskommissie, te implementeer.

Die afgelope vyf jaar het ons meer as R1 biljoen rand (miljoen-miljoen) in nuwe infrastruktuur belê vir die voorsiening van water, energie, vervoer, sanitasie, skole en klinieke asook internetverbindings.

Oor die volgende drie jaar sal ons R847 miljard aan infrastruktuur bestee en verskeie projekte begin of voltooi.

Bouwerk aan die Mzimvubudam in die Oos-Kaap en die verhoging van die muur van Clanwilliamdam in die Wes-Kaap sal voortgaan.

Gedurende die volgende vyf jaar sal die grootste deel van die bouwerk aan Fase 2 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek voltooi wees.

Binne die volgende vyf jaar sal bouwerk aan die meer as 60 MeerKat-skottels voltooi wees en sal ons begin met die bou van die eerste 100 SKA-antennes.

Ons sal die bekostigbaarheid van inligting- en kommunikasie-infrastruktuur en elektroniese kommunikasiedienste, insluitend breëband- en digitale uitsaainetwerke, moderniseer en uitbrei.

Die Kabinet het in Desember verlede jaar ‘South Africa Connect’, ons Breëband-beleid-en-strategie, aanvaar om hierdie missie te uit te bou.

Ons sal met verskeie ander infrastruktuurprojekte voortgaan wat die lewensomstandighede van ons mense sal verander en ekonomiese groei sal bevorder.

Landgenote,
Ons gaan voortbou op ons radikale sosio-ekonomiese transformasieprogram met die implementering van die Nywerheidsbeleidaksieplan.

Ons gaan plaaslike aankope bevorder en binnelandse produksie verhoog deur te verseker dat die staat 75% van goedere en dienste van Suid-Afrikaanse vervaardigers koop.

Ons gaan onder andere die hernubare-energiesektor, die vervaardiging van busse, Transnet se R50 miljard-lokomotiefkontrakte en Prasa se passasierspoorprojekte gebruik om plaaslike inhoud te bevorder en groei te stimuleer.

Oor die volgende vyf jaar gaan ons ook plaaslike ekonomiese ontwikkeling en industrialisering bevorder deur die skepping van spesiale ekonomiese sones in die land.

Ons gaan die mededingendheid van die arbeidsintensiewe motor-, klere-, leer-, skoeisel- en tekstielbedrywe deur middel van aansporings bly ondersteun.

Agbare lede,
Ondanks moeilike wêreldhandelstoestande in ons tradisionele markte, het Suid-Afrika se toerismesektor in 2013 positiewe groei getoon en ’n rekordhoogtepunt van 9,6 miljoen internasionale toeriste bereik.
Oorsese toeriste is baie lief vir Suid-Afrika en hou aan om die land te besoek.

Ons het ’n teiken gestel om die getal jaarlikse buitelandse besoekers teen 2017 op meer as 15 miljoen te staan te bring.

Ons ondersoek ook maniere om die bydrae van toerisme tot die land se inkomste teen 2017 tot meer as R125 miljard te verhoog.

Oor die volgende vyf jaar gaan ons daarop fokus om kleinsake, township-ondernemings en veral die informele sakesektor te ondersteun en sodoende die KMMO-ontwikkelingsprogram gebruik om breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging te bevorder.

Ons gaan die implementering van die gewysigde Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Billike Indiensneming verskerp om eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie te transformeer.

Ons gaan meer werknemers- en gemeenskapsaandeelhoudingskemas bevorder en deelname van swart entrepreneurs in die herindustrialisering van die ekonomie ’n hupstoot gee.

Landgenote,
Die totale bates van ons Finansiële Instellings vir Ontwikkeling beloop sowat R230 miljard.

Die invloed op ontwikkeling is egter nie breed genoeg nie en die beleggingsprogramme is nie goed gekoördineer nie.

Die instellings sal binne die volgende vyf jaar herposisioneer word om instrumente van maatskaplike ontwikkeling te word.

In dieselfde trant sal die regering Postbank ondersteun sodat dit ’n leidende rol kan speel in die uitbreiding van bankdienste aan die armes en die werkersklas.

Agbare lede,
Vooraanstaande gaste,
Jeugbemagtiging sal die fokus wees in ons program van ekonomiese transformasie.

Die regering gaan verdere stappe doen om die indiensneming van jong mense te bespoedig in ooreenstemming met die Jeugindiensnemingsakkoord.

Ons gaan die aantal internskapposte in die staatsdiens verhoog, en elke staatsdepartement en openbare entiteit sal verplig word om indiensopleiding te verskaf.

Die private sektor het positief op die bekendstelling van die indiensnemingsbelasting-aansporing gereageer. Binne slegs vyf maande het sowat 133 000 werknemers hierby gebaat en 11 000 werkgewers het aan die aansporingskema deelgeneem.

Die meerderheid is in die groot- en kleinhandel, vervaardiging- en die finansiële sektor in diens geneem.

Agbare Speaker,
Geagte Voorsitter,
Sedert 2004 het die Regering die Uitgebreide Openbarewerkeprogram (UOWP), wat werk en opleiding vir werkloses bied, suksesvol geïmplementeer. Die nuwe fase sal teen 2019 ses miljoen werkgeleenthede skep. Ons bou voort op die suksesse van die afgelope paar jaar.

Ons het die afgelope vyf jaar ongeveer vier miljoen werksgeleenthede geskep.
Die omgewingsinisiatiewe van die UOWP soos werk op afval, werk in vleilande, werk vir water, werk aan brande en die Omgewingsjeugdiensteprogram sal ook tot 2019 uitgebrei word ter ondersteuning van jeugontwikkeling.

Daarbenewens sal die plaaslike regeringsgebaseerde Gemeenskapwerke-rogram uitgebrei word om ’n miljoen werkgeleenthede teen die einde van 2019 te skep.

Landgenote,
Ons het die landbou as ’n belangrike dryfveer vir die taak geïdentifiseer. Ons doelwit is dat die landbousektor teen 2030 eenmiljoen werkgeleenthede sal skep.

Die regering sal omvattende ondersteuning aan kleinboere bied deur grondhervorming te bespoedig en tegniese, infrastrukturele en finansiële ondersteuning te bied.

Ons gaan ook ondersteuning bied aan gemeenskappe en betrokke raak by voedselproduksie en bestaansboerdery om voedselsekerheid te bevorder, in ooreenstemming met die Fetsa Tlala-voedselproduksieprogram.

Ons gaan die afhandeling van oorblywende grondeise wat voor die afsnydatum van 1998 voorgelê is, versnel. Ons gaan ook die tydperk vir die indiening van eise vir die herstel van grond vir ’n tydperk van vyf jaar heropen en die uitsonderings op die 1913-afsnydatum vir die afstammelinge van die Khoi en San in wetgewing beliggaam.

Agbare Speaker,
Geagte Voorsitter,
Afrika suid van die Sahara raak ’n toenemend belangrike handelsvennoot vir ons land. Ons is bemoedig deur die feit dat Suid-Afrikaanse beleggings in die vasteland van R5,5 miljard in 2002 tot R32,3 miljard in 2013 gegroei het.

Ons uitvoere na die vasteland styg ook jaar op jaar, op na 28,5% van die 22,6% in 2002.

Suid-Afrika sal voortaan breër streeksintegrasie deur die Suider-Afrikaanse Doeane-unie, SAOG en die beoogde Drieparty-vryehandelsgebied oor Oos- en Suider-Afrika ondersteun.

Mede-Suid-Afrikaners,
Ons wil hê dat ons mense ’n aangename ervaring van plaaslike regering beleef.
Ons het na die klagtes en voorstelle van Suid-Afrikaners oor die prestasie van munisipaliteite oor die afgelope vyf jaar geluister.

Ek wil nou graag ons plan van aksie om plaaslike regering te verbeter met u deel.

Ons munisipaliteite is oor die afgelope 20 jaar van demokrasie op ’n stewige grondslag gebou.

Ons het al ons munisipaliteite geëvalueer.

Ons het gekyk na hul finansiële bestuur, hoe hulle binne die wetgewende prosesse werk asook hul vermoë om projekte te implementeer en kapasiteitbeperkings aan te pak.

Ons het ook gekyk na hoe hulle op betogings oor dienslewering reageer. Daar was baie suksesse in verskeie munisipaliteite. Maar ons het ook met ’n hele paar uitdagings te kampe.

Ons is in ons skik dat 11 munisipaliteite uitstaan wat betref volgehoue goeie prestasie in oudits, besteding van toelaes vir munisipale infrastruktuur en dienslewering.

Die 11 munisipaliteite is die volgende:

1. Nkangala Distriksmunisipaliteit
2. Cacadu Distriksmunisipaliteit
3. Zoeloeland Distriksmunisipaliteit
4. Umzinyathi Distriksmunisipaliteit
5. Ilembe Distriksmunisipaliteit
6. Knysna Plaaslike Munisipaliteit
7. Die Weskus Distriksmunisipaliteit
8. Matzikama Plaaslike Munisipaliteit
9. Mosselbaai Plaaslike Munisipaliteit
10. Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit, en
11. Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit

Ons wil die munisipaliteite met hierdie prestasie gelukwens.

’n Omvattende evaluering van verskeie munisipaliteite het aangedui waar hulle hulp nodig het.

Ons sal bystand aan onder andere die volgende munisipaliteite bied:
In die Amathole Distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap het die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika befondsing vir die ontwikkeling van infrastruktuur goedgekeur.

Eenhonderd projekte, veral in water en sanitasie, sal van stapel gestuur word en binne die volgende 12 maande voltooi wees.

In die Umzinyathi Distriksmunisipaliteit, KwaZulu-Natal, sal befondsing beskikbaar gestel word vir infrastruktuurprojekte, hoofsaaklik die elektrifisering van huishoudings.
Plaaslike munisipaliteite waaraan hulp verleen sal word sluit in Msinga, Umvoti en Nquthu.

In die Alfred Nzo Distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap sal befondsing beskikbaar gestel word vir die ontwikkeling van infrastruktuur-projekte wat insluit watervoorsiening, sanitasie, en elektrifisering.

Plaaslike munisipaliteite wat hierby betrokke is, sluit in Mbizana en Ntabankulu, waar sowat eenmiljoen mense woon.

Ons sal die Lukhanji Plaaslike Munisipaliteit help om sy administrasie in orde te kry en ondersteuningsplanne vir die voorsiening van water en elektrisiteit implementeer.

Ons gaan die OR Tambo-distriksmunisipaliteit help om sy administrasie en organisatoriese struktuur te stabiliseer en die implementering van die Presidensiële Ingrypingsplanne versnel.

In die Mbhashe Plaaslike Munisipaliteit gaan ons afvalbestuurplanne implementeer en kwessies rakende grondwaterbesoedeling uitstryk.

By die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes gaan die nasionale regering ondersteuning bied en met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika saamwerk om finansiering vir water-en-sanitasie-infrastruktuur op te los.

Ons sal die Stad van Johannesburg in Gauteng help om probleme met die betalingstelsel op te los.

Ons gaan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat help met die uitwissing van die emmerstelsel en ooptoilet-uitdagings.

Intussen is werk aan die gang om die emmerstelsel in die hele land uit te roei. Dit is ook die prioriteit van die Interministeriële Taakspan oor Dienslewering wat ek in die lewe geroep het. Die span word gelei deur minister Pravin Gordhan.

Die span bestaan uit die Ministers van Beplanning, Prestasiemonitering en evaluering in die presidensie, Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, Vervoer, Binnelandse Sake, Openbare Ondernemings, Energie, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gesondheid en Basiese Onderwys.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,
’n Belangrike fokusarea in plaaslike regering oor die volgende vyf jaar gaan wees hoe ons reageer op die realiteit van snelle verstedeliking.

Suid-Afrika is steeds ’n verstedelikte land. Teen 2011 sal byna 63% van die bevolking in dorpe en stede woon en daar word verwag dat hierdie tendens in die komende dekade sal voortduur.

Die regering se Geïntegreerde Stedelike Ontwikkelingsraamwerk sal teen 30 Julie 2014 afgehandel wees.

Dit sal ’n nuwe bedeling vir Suid-Afrikaanse stede en dorpe teweeg bring.

Dit ’n beleidsraamwerk wat uiteensit hoe die stedelike stelsel in Suid-Afrika oor die volgende 20 tot 30 jaar herorganiseer kan word sodat stede en dorpe inklusiewe, hulpbrondoeltreffende en goeie plekke kan word om in te woon.
Laat ons ’n sukses maak van plaaslike regering!

Landgenote,
Oor die afgelope 20 jaar het ons ons ondersteuning vir gemarginaliseerde en kwesbare huishoudings uitgebrei deur beleggings in behuising, uitbreidings aan ons maatskapliketoelae-program en verbeterde toegang tot onderwys en primêre gesondheidsorg.

In die toekoms sal ons ons fokus op die vermindering van armoede verskerp.
Ons sal voortgaan om in onderwys en vaardigheidsontwikkeling te belê, aangesien dit die sleutel tot ekonomiese groei en ontwikkeling is. Ons moet ingenieurs, elektrisiëns, loodgieters, dokters, onderwysers en baie ander beroepslui in ons land se ekonomie behou.

Onderwys bly dus ’n top-prioriteit vir die regering. Ons sal voortgaan om universele toegang tot onderwys te bevorder deur te verseker dat alle kinders tussen die ouderdomme van sewe en 15 skoolgaan.

Ons sal die getal graad 12-leerders wat toegang tot universiteit kan kry van 172 000 in 2013 tot 250 000 in 2019 vermeerder.

Ons het verlede jaar minstens een nuwe skool elke week in die Oos-Kaap geopen en sal voortgaan om modderskole en ander onvanpaste strukture uit te roei.

Die aantal jong mense in universiteite en kolleges het oor die jare toegeneem. Kontrakteurs sal in September begin bou aan universiteite in die Noord-Kaap en Mpumalanga.

Teen Januarie volgende jaar sal die eerste mediese studente by die nuwe mediese universiteit in Limpopo kan inskryf.

Daarbenewens sal 12 opleidings- en professionele onderwyskolleges gebou word om tegniese vaardighede in die land uit te brei.

Landgenote,
Ons moet saamwerk om dwelms en dwelmmisbruik in ons skole en gemeenskappe te beveg. Ons sal ook veiligheid in skole, die vervoer van skoliere en kindergesondheid prioritiseer.
Op die gebied van gesondheid sal ons harder werk om die lewensverwagting by die geboorte van 60 jaar in 2012 na 63 jaar in 2019 te verhoog.

Die veldtog om die verhouding van kind- en moedersterftes te verminder, sal voortgaan.
Dit sal die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering vereis en die verbetering van die gehalte van gesondheidsorg in die staatsdiens.

Ons sal voortbou op die suksesse van ons MIV- en vigs-behandeling en ondersteuningsprogram deur ons massa MIV-voorkomingskommunikasieveldtogte uit te brei.

Landgenote,
Ons sal die vooruitgang wat ons in die bevordering van die bemagtiging en ontwikkeling van vroue gemaak het, verder voer.

Die minister in die presidensie verantwoordelik vir vroueontwikkeling, me Susan Shabangu, sal saam met ander staatsdepartemente, agentskappe, die private sektor en nie-regeringsorganisasies vroue se sosio-ekonomiese bemagtiging, ontwikkeling en menseregte bevorder.

Om ons demokratiese winste verder te konsolideer, sal ons voortgaan om die lewens van mense met gestremdhede oor die volgende vyf jaar te bevorder en te verbeter.

Ons sal met die gestremdheidsektor saamwerk om sleutelareas te identifiseer waarin ons Suid-Afrika se rol as ondertekenaar van die VN se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede en die Opsionele Protokol moet vervul.
Nog ’n belangrike ingryping in hierdie termyn is om die Beleid oor Nasionale Regte van Gestremdes, wat insluit die Nasionale Raamwerk oor die Regte van Gestremdes te finaliseer.

Die Beleid en Raamwerk sal Regeringsoptrede rig om ’n meer inklusiewe gemeenskap te bevorder en om die betrokkenheid van mense met gestremdhede in besluitnemingsprosesse uit te brei.

Mede-Suid-Afrikaners,
Ons het die afgelope vyf jaar vordering gemaak in die vermindering van die vlakke van ernstige misdaad soos moord, ernstige rooftogte, misdaad teen vroue, kinders en ander kwesbare groepe, maar dit bly onaanvaarbaar hoog. Ons sal werk om vlakke van misdaad verder te verminder.

Die Spesiale Ondersoekeenheid, die Teenkorrupsie-taakspan, die Batebeslagleggingseenheid en die Valke het merkbare vordering gemaak in hul strewe om korrupsie in die samelewing en in die openbare sektor te bestry. Hierdie werk sal oor die volgende vyf jaar voortduur.

Ons sal aandag gee aan swak plekke wat betref verkryging, bestuur en operasionele stelsels wat die doeltreffendheid van die regering ondermyn. Een van die belangrikste stappe waarmee ons reeds besig is, is om verkryging te sentraliseer deur die Kantoor van die Hoofaankopebeampte in die Nasionale Tesourie.

Ons het begin om hierdie nuwe benadering op die proef te stel met die sentralisering van die verkryging van skoolmeubels in die Oos-Kaap. Die meubels sal teen die middel van Augustus 2014 in alle Oos-Kaapse skole gelewer word.

Ons gaan maatreëls instel om te keer dat staatsamptenare en staatsdiensverteenwoordigers met die regering sake doen.

Dit sal ondersteun word deur verbeterde implementering van die Raamwerk vir Finansiële Openbaarmaking, beskerming van alarmmakers en die voorsiening van tegniese bystand aan departemente vir doeltreffende dissiplinebestuur.

Landgenote,
Oor die volgende vyf jaar sal ons aanhou bou aan ’n beter Afrika en ’n meer regverdige wêreld.

Suid-Afrika sal voortgaan om streeks- en kontinentale prosesse te ondersteun, om krisisse te reageer en op te los, om vrede en veiligheid te bevorder, om plaaslike integrasie te versterk, om intra-Afrika-handel aansienlik te verhoog en volhoubare ontwikkeling in Afrika aansienlik te bevorder.

Dit sal ondersteuning en uitvoering van besluite van die Afrika-unie behels, asook die bevordering van die werk van die strukture van die AU.

Ons sal ook voortgaan om suid-suid-samewerking te bevorder deur middel van lidmaatskap en betrokkenheid by formasies en groeperings van die suide.
Net so sal ons aanhou om wedersyds voordelige verhoudings met die lande in die noorde te bevorder.

Ons sal aanhou om ekonomiese ontwikkeling, handel en beleggingsvennootskappe met die BRICS-lande te verskerp deur middel van die BRICS-Kontakgroep vir Ekonomiese en Handelskwessies.

Agbare lede,
Vooraanstaande gaste
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is ’n instelling wat nasionale trots kweek as dit aan vredesendings op die vasteland deelneem.

Hierdie rol sal voortgaan en die Regering ondersoek tans maniere om die mandaat van die SANWM uit te voer in ooreenstemming met die onlangs voltooide Verdedigingsoorsig.

Mede-Suid-Afrikaners,
Om hierdie program van aksie te bevorder, sal ek en die adjunkpresident met ministers en adjunkministers vergader om die besonderhede van die implementeringsplanne van elke departement te bespreek.

Elke minister sal ’n prestasie-ooreenkoms met die President onderteken wat elke departement sal doen om die program van aksie uit te voer, uiteen sal sit.

Landgenote, 17 Junie is die 22ste herdenking van die verskriklike Boipatong-slagting in Gauteng.

As ons terugkyk na een van die ergste gruverhale in ons onlangse verlede, is dit ’n herinnering dat ons genesing en nasiebou meer as ooit sal moet bevorder.

Ons moet begrip, verdraagsaamheid en versoening bou, en saam rassisme, vreemdelingehaat, homofobie en alle vorme van onverdraagsaamheid beveg.

Die gebruik van sport en kultuur as ’n samebindende middel sal in hierdie termyn voortduur. Ons sal ook voortgaan om die Grondwet in skole te bevorder en verseker dat ons kinders grootword met positiewe waardes en liefde vir hul land en sy mense.

Ons sal oor die volgende vyf jaar voortbou op inklusiewe erfenis met die bou van monumente en ander simbole om die gevalle helde van die gewapende stryd te vereer wat gehelp het om die vryheid en demokrasie mee te bring wat ons vandag geniet.

As deel van ons viering van 20 jaar van vryheid en demokrasie sal rekords wat vanjaar ook 20 jaar oud is, soos dié van voormalige President Nelson Mandela se eerste dae in sy amp, na die Nasionale Argief oorgeplaas word.

Vanjaar word die rekords van die KODESA-veelparty-onderhandelingsforum in die Internasionale Wêreldregister van Herinnering opgeneem.

Volgende maand herdenk die land en die wêreld Internasionale Mandeladag.

Alle Suid-Afrikaners behoort minstens 67 minute op 18 Julie af te staan om Suid-Afrika skoon te maak, wat ook vanjaar se tema is.

Kom ons beplan vir ’n grootskaalse skoonmaak van ons stede, dorpe, townships, nedersettings en skole en verfraai elke deel van ons land.

Mede-Suid-Afrikaners,
Die program van aksie is daarop gemik om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak.

Ons moedig alle Suid-Afrikaners aan om saam met ons te werk om hierdie suksesprogramme te implementeer.

Kom ons beweeg saam Suid-Afrika vorentoe.

Ek bedank u.