Back to top

Primary tabs

Speaker van die Nasionale Vergadering (NV), me Thandi Modise,

Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), mnr Amos Masondo,

Adjunkpresident David Mabuza,

Voormalige President Thabo Mbeki en mev Mbeki,

Voormalige adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka,

Voormalige adjunkpresident Baleka Mbete,

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en agbare lede van die Regbank,

Ministers en adjunkministers,
Agbare lede van die NV,

Agbare lede van die NRVP

Dekaan van die Europese streek, as verteenwoordiger van die diplomatieke korps, Sy Hoogheid, mnr Beka Dvali,

Vooraanstaande gaste,

Mede Suid-Afrikaners,

Vandag, 31 jaar gelede, het President Nelson Mandela by die hekke van die Victor Verster-tronk as ’n vry man uitgestap; ’n lewende vergestalting van die veerkragtigheid en moed van die Suid-Afrikaanse volk.

Vir naastenby 40 miljoen jaar het daar ’n uitsonderlike ekostelsel hier aan die mees suidelike punt van ons kontinent bestaan.

Die fynbosbioom, wat regoor die Kaap strek, het van die mees besondere eienskappe van enige plante ter aarde.

Dit kan aanpas by warm, droë somers en koue, nat winters. Die diversiteit van fynbos is wonderbaarlik.

Ons nasionale blom, die protea, is een van die fynbosspesies.

Met die opening van die derde Nasionale Beleggingskonferensie wat verlede jaar plaasgevind het, het ek gepraat oor die protea se unieke kenmerke wat op soveel maniere met dié van ons nasionale karakter ooreenstem.

Een van die mees unieke en uitsonderlike kenmerke van fynbos is dat vuur nodig is om die volhoubaarheid en voortbestaan daarvan te verseker.

Minstens elke 20 jaar moet fynbos teen uiterse hoë temperature brand om die ekostelsel in staat te stel om te vernuwe en opnuut te begin groei.

Deur die somer bly die verskroeide plante dor, droog en dof. Maar sodra die herfsreën neersak, ontkiem die saad en begin die lewensiklus weer van voor af.

Die berge floreer met nuwe lewe wanneer plante wat eens as verlore voorgekom het, sterker as vantevore groei.

Ons, die volk van Suid-Afrika, het die afgelope jaar baie swaar gely.

Soos ’n veldbrand wat woed oor die berge waar die fynbos groei, is die wêreld deur ’n pandemie geteister wat verwoesting gesaai en mense afgemaai het.

En tog, soos die taai fynbos van ons land, het ons ook op verskeie maniere getoon dat ons nie maklik gaan lê nie en altyd weer opstaan.

Vir drie eeue was ons die slagoffers van onderdrukking, onteiening en ongeregtigheid.

En vir drie eeue het ons bly staan, bly terugveg.

Die vlamme van ongeregtigheid mag ons dalk gebrand het, maar dit het ons nie verteer nie.

Die reën van demokrasie het herlewing gebring en tot die geboorte van ’n nuwe nasie gelei.

Ons het keer op keer uit die as herrys om ’n nuwe dag in te lui.

As ons terugkyk na die skade wat die koronavirus veroorsaak het, moet ons besef dat, net soos die fynbos, net soos die landsgenote wat voor ons geleef het, ons weer uit die as sal herrys.

Amper ’n jaar is verby sedert Suid-Afrika se eerste geval van die nuwe koronavirus, COVID-19, aangeteken is.

Sedertdien is naastenby een-en-’n-half miljoen mense in ons land met die virus besmet.

Meer as 45 000 mense het aan die virus gesterf.

Die mensestories agter die statistieke is dié van pyn en tragedie.

Daar is geen familie, geen gemeenskap en geen werksplek wat nog nie iemand saam met wie hulle gewoon, gewerk of liefgehad het, verloor het nie.

Dit is ook ’n storie van moed en veerkragtigheid.

Die veerkragtigheid van die hospitaalwerker wat – dag na dag, nag na nag – werk toe gaan om lewens te red, wetend dat hulle self ook die risiko van infeksie dra.

Dit is ’n wonderbaarlike storie van die dapperheid van die polisiebeampte, die essensiële werker, die versorger en al die ander mense op die frontlinie wat ons land veilig hou, kos vir ons volk verskaf en ons ekonomie aan die gang hou.

Dit is ’n storie van samehorigheid en deernis.

Van ’n nasie wat saamgestaan het om COVID-19 die stryd aan te sê op maniere wat ons nie sedert die vroeë dae van ons demokrasie gesien is nie.

Meer as enigiets anders, het hierdie krisis die ware karakter van ons uitsonderlike nasie onthul.

Dit het die gees onthul van ’n volk wat weier om verslaan te word.

Dit is hierdie Suid-Afrikaanse gees wat ons moet dryf om ’n nuwe en meer gelyke ekonomie en ’n beter, meer regverdige samelewing te kweek.

Die jaar vorentoe moet ’n tyd wees van verandering, vordering en wedergeboorte.

Dit moet ’n jaar wees waartydens ons herrys.

Vanjaar is nie ’n gewone jaar nie, en hierdie is nie ’n gewone Staatsrede nie.

Ek gaan dus vanaand op die belangrikste, mees oorheersende prioriteite vir 2021 fokus.

Eerstens moet ons die koronaviruspandemie verslaan.

Tweedens moet ons ons land se ekonomiese herstel bespoedig.

Derdens moet ons ekonomiese hervormingsmaatreëls implementeer om volhoubare werkskepping en inklusiewe groei te dryf.

En laastens moet ons korrupsie beveg en die Staat versterk.

In die komende weke sal ons aandag skenk aan die ander belangrike elemente van die Staat se programme vir die jaar.

Fundamenteel tot ons nasie se herstel is ’n onverbiddelike en omvattende reaksie om die koronavirus te bekamp.

Suid-Afrika het pas die tweede vlaag van infeksies ervaar sedert COVID-19 in Maart verlede jaar in ons land bespeur is.

Hierdie tweede vlaag infeksies is gedrewe deur ’n nuwe variant van die virus; dit was erger as die eerste vlaag en het baie meer lewens geëis.

Die lewensverlies kon egter erger gewees het.

As ons nie vinnig gereageer het om bewegings en aktiwiteite in te perk nie, as ons nie ons gesondheidsfasiliteite voorberei het nie, as Suid-Afrikaners nie die basiese gesondheidsmaatreëls gevolg het nie, kon die verwoesting wat deur die pandemie gesaai is veel erger gewees het.

Vanjaar moet ons alles binne ons vermoëns doen om hierdie pandemie te bekamp en verslaan.

Dit beteken dat ons ons voorkomingspogings moet verskerp en ons gesondheidsorgstelsel moet versterk.

Dit beteken ook dat ons ’n enorme inentingsprogram van stapel moet stuur om lewens te red en infeksies onder die bevolking dramaties te verminder.

Vroeër vandeesweek is ons meegedeel dat een van die entstowwe wat ons verkry het, die AstraZeneca-entstof, slegs minimale beskerming bied teen ligte tot matige infeksie deur die nuwe variant, bekend as 501Y.v2.

Dít volgens die vroeë bevindings van ’n studie deur ons wetenskaplikes en navorsers.

Ons prys die wetenskaplikes wat hierdie navorsing gelei het en nuwe inligting openbaar het wat noodsaaklik is om ons te reaksie te bepaal.

Aangesien hierdie variant tans die dominante variant in ons land is, hou hierdie bevindinge noemenswaardige implikasies in betreffende die spoed, ontwerp en volgorde van ons inentingsprogram.

Alhoewel dit nie die aanvang van die inentingsprogram baie sal vertraag nie, beïnvloed dit wel die keuse van entstof en die manier waarop dit uitgerol word.

Die eerste fase van ons inentingsprogram, wat gemik is op gesondheids- en frontliniewerkers, sal nou die Johnson & Johnson-entstof gebruik. Die Johnson & Johnson-entstof se doeltreffendheid teen die 501Y.V2 variant is beproef.

Ons het nege miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof verkry.

Die eerste besending van 80 000 dosisse sal volgende week in die land ontvang word.

Die volgende besendings sal oor die volgende vier weke gelewer word, met altesaam 500 000 Johnson & Johnson-inentings wat verwag word.

Alle provinsies het uitrolplanne gereed wat in werking gestel sal word sodra die inentings ontvang is.

Ek spreek graag my dank uit teenoor al die provinsies vir hul gereedheidsvlakke vir hierdie reusetaak wat vir ons wag.

Daarbenewens het ons ook 12 miljoen dosisse entstof vanaf die globale COVAX-fasiliteit ontvang.

Dit sal aangevul word deur ander entstowwe wat aan Suid-Afrika beskikbaar gestel sal word deur die fasiliteit van die Afrika-unie (AU) se Afrika Entstofverkrygingstaakmag (“African Vaccine Acquisition Task Team”).

Pfizer het hul verbind tot die lewering van 20 miljoen dosisse, met aflewering wat teen die einde van die eerste kwartaal sal begin.

Ons gaan voort met gesprekvoering met alle ander entstofvervaardigers om te verseker dat ons voldoende hoeveelhede inentings verkry wat toepaslik is vir ons land se omstandighede.

Die gesondheid en veiligheid van ons volk bly ons vernaamste prioriteit.

Alle medikasie wat in die land ingevoer word, word gemonitor, ondersoek, inspekteer en geregistreer deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte.

Ons sal voortgaan om die wetenskaplik gedrewe benadering te volg wat ons sedert die begin van die pandemie goed te pas gekom het.

Die sukses van die inentingsprogram sal afhang van die aktiewe samewerking tussen alle sektore van die samelewing.  

Ons vind die aktiewe betrokkenheid van handel, arbeid, die gesondheidsorgbedryf en in besonder mediese skemas by die voorbereiding vir hierdie reuse inentingsprojek uiters bemoedigend.

Net soos wat ons in die verlede uitdagings die hoof gebied het, sal ons ook hierdie uitdaging die hoof bied en uit die as herrys.

Dit is egter nie net die koronavirus wat ons te bowe moet kom nie.

Ons moet ook armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid oorkom.

Ons moet ’n erfenis van uitsluiting en onteiening oorkom wat ons volk steeds verarm en wat deur die pandemie vererger is.

Toe ek verlede jaar die Staatsrede hier gelewer het, sou niemand kon raai hoe – binne ’n kwessie van ’n paar weke – ons land en ons wêreld so dramaties sou verander nie.

Ons planne moes aangepas word in reaksie op ’n wêreldwye noodtoestand.

Begrotings moes weer prioritiseer word en baie programme moes uitgestel word.

Die afgelope jaar het Suid-Afrika ’n skerp daling in ekonomiese groei en ’n noemenswaardige styging in werkloosheid ervaar.

Armoede is besig om toe te neem. Ongelykheid is besig om te verdiep.

In die derde kwartaal van 2020 het ons ekonomie met 6% gekrimp teenoor die laaste kwartaal van 2019.

Daar was 1.7 miljoen minder mense met werk in die derde kwartaal van 2020 as in die eerste kwartaal, toe die pandemie getref het.

Ons werkloosheidsyfer staan tans op ’n skrikwekkende 30.8%.

Weens die hulpverleningsmaatreëls wat ons geïmplementeer het en die stelselmatige heropening van die ekonomie, verwag ons ’n sterk herstel in indiensneming teen die einde van die jaar.

Terwyl ons ons daarop toegespits het om die verspreiding van die virus te beperk, moes ons ook uitsonderlike maatreëls tref om gewone Suid-Afrikaners te steun, besighede uit die knyp te help en mense se lewensbestaan te beskerm.

Die ekonomiese en maatskaplike hulpverleningpakket wat ons laasjaar in April bekendgemaak het, is die grootste ingryping van sy soort in die land se geskiedenis.

Dit het maatreëls ter waarde van R500 miljard identifiseer – oftewel 10% van ons bruto binnelandse produk – om kontant direk aan die armste huishoudings te verskaf, om loonondersteuning aan werkers te bied asook om verskeie vorme van hulpverlening aan ondernemings in nood te verskaf.

Altesaam 18 miljoen mense, oftewel naastenby een derde van die bevolking, het bykomende toelaes deur middel van hierdie hulpverleningsmaatreëls ontvang.

Daar word beraam dat hierdie toelae meer as vyf miljoen mense tot bo die broodlyn laat uitstyg het en gehelp het om honger te verlig in 'n tyd van groot krisis.

Tot op hede is meer as R57 miljard in loonondersteuning aan meer as 4.5 miljoen werkers betaal deur middel van die Werkloosheidsversekeringsfonds se spesiale tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema (Ters).

Meer as R1.3 miljard se steun is gelewer aan meestal klein en mediumgrootte sake-ondernemings.

Daarbenewens het maatskappye in nood voordeel getrek uit belastingverligtingsmaatreëls van meer as R70 miljard.

Naastenby R18.9 miljard in lenings aan 13 000 ondernemings is goedgekeur deur middel van die Leningwaarborgskema.

Mede Suid-Afrikaners,

Dit is amper vier maande sedert ek hier gestaan het voor ’n gesamentlike sitting van die Parlement om die Ekonomiese Herkonstruksie-en-Herstelplan aan die nasie bekend te stel.

Vanaand staan ons nie hier om blote beloftes te maak nie, maar om verslag te lewer oor vordering in die implementering van die herstelplan en die stappe wat ons moet prioritiseer om groei te herstel en werkskepping te bevorder.

Sedert die plan geloods is, het ons op vier prioriteitingrypings gefokus:

  • ’n reuse-uitrol van infrastruktuur regoor die land,
  • ’n reusetoename in plaaslike produksie,
  • ’n indiensnemingstimulus om werk te skep en mense se lewensbestaan te steun, en
  • die vinnige uitbreiding van ons kapasiteit vir energieskepping.

Ons het aangekondig dat ons aan die werk sou spring met ’n reuse-uitrol van infrastruktuur regoor die land.

Om in hierdie doel te slaag, het ons besef dat ons stelselmatig tegniese kundigheid onder staatsamptenare moet herbou om groot infrastruktuurprojekte te kan voorberei en bestuur.

Ons het ’n infrastruktuurbeleggingsprojekpyplyn ter waarde van R340 miljard ontwikkel in netwerkbedrywe soos energie, water, vervoer en telekommunikasie.

Konstruksie het begin en vordering word in ’n aantal sulke projekte gemaak.

Sedert die aankondiging van die Ekonomiese Herkonstruksie-en-Herstelplan, het ons twee groot menslike-nedersettingsprojekte in die Gauteng-provinsie geloods, wat huise aan nagenoeg 68 000 huishoudings sal verskaf.

Soortgelyke menslike-nedersettingprojekte word ook in ander provinsies beoog.

Twee jaar gelede het ek gepraat oor die droom om nuwe slimstede te bou, wat ons in staat sal stel om weg te breek van apartheid se ruimtelike ontwikkelingspatroon.

Nuwe post-apartheidstede word op ’n paar plekke in die land gekonseptualiseer.

Die Lanseria Smart City, die eerste stad om in ’n demokratiese Suid-Afrika gebou te word, is besig om te realiseer.

Die voorlopige bouplanne vir hierdie slimstad – wat binne die volgende dekade tussen 350 000 en 500 000 mense sal huisves – is in November 2020 voltooi en is tans beskikbaar vir die publiek se insette.

Vooruitgang word gemaak is verskeie groot waterinfrastruktuurprojekte, insluitend Fase 2A van die Mokolo-en-Krokodilrivierprojek, asook die uMkhomazi-waterprojek.

Die infrastruktuurbeleggingsplan het padwerkprojekte ter waarde van R19 miljard identifiseer wat regoor die hoofroetes van die land se padnetwerk strek.

Werk is aan die gang om die finansieringstruktuur van hierdie projekte te finaliseer.

Hulpbronne is deur die fiskus toegeken om die konstruksie en rehabilitasie van die N1-, N2 -en N3-hoofweë te finansier.

Hierdie infrastruktuurprojekte sal die voortou neem in die herlewing van die konstruksiebedryf en tot broodnodige werkskepping lei.

Die R100-miljard infrastruktuurbeleggingsplan is nou in volle swang.

Hierdie fonds sal hulpbronne vanaf die fiskus kombineer met finansiering vanuit die privaatsektor en ontwikkelingsinstansies.

Die goedgekeurde befondsingspyplyn vir 2021 behels ’n verskeidenheid projekte, insluitend die infrastruktuurprogram vir studentebehuising, wat beoog om 300 000 studentebeddens te lewer.

SA Connect is nog só ’n projek wat breëbandtoegang aan skole, hospitale, polisiestasies en ander staatsfasiliteite sal verskaf.

Die tweede prioriteit van die Ekonomiese Heropbou-en-Herstelplan is om ’n reusetoename in plaaslike produksie te steun en om Suid-Afrikaanse uitvoere wêreldwyd mededingend te maak.

Dit sal meer beleggings deur die privaatsektor in produktiewe aktiwiteite aanmoedig.

Van sleutelbelang vir hierdie plan is dat die staat, handel en georganiseerde arbeid hulself opnuut verbind tot die koop van plaaslike produkte, wat sal lei tot ’n toename in plaaslike produksie en gevolglik ’n herlewing in ons land se vervaardigingsbedryf.

Al die maatskaplike vennote wat aan die ontwikkeling van die Ekonomiese Heropbou-en-Herstelplan deelgeneem het, het as deel van ons sosiale ooreenkoms, ingestem om saam te werk om ons afhanklikheid van invoere met 20% oor die volgende vyf jaar te sny.

Hulle het 42 produkte identifiseer – wat wissel van eetbare olies tot meubels, vrugtekonsentrate, persoonlike beskermingstoerusting, staalprodukte en insette tot die groen ekonomie – wat alles plaaslik verkrygbaar is.

As ons ons mikpunt bereik, sal ons die ekonomie aansienlik uitbrei en moontlik meer as R200 miljard aan die land se jaarlikse uitset terugbesorg.

Ons het laasjaar onderneem om ’n groter mark vir klein sake-ondernemings te skep en 1 000 plaaslik vervaardigde produkte te identifiseer wat vanaf klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) verkry moes word.

Weens die onvermydelike sluiting van internasionale waardekettings deur die COVID-19-pandemie, is plaaslike waardekettings oopgelaat vir plaaslikvervaardigde produkte en was ons in staat om hierdie inisiatief te bespoedig.

Die Kabinet het gevolglik ’n beleidsraamwerk goedgekeur wat daarop fokus om plaaslike produkte vanaf plaaslike KMMO’s te koop, goedgekeur; die 1 000 produkte is hiervolgens geïdentifiseer.

Daarbenewens ondersteun die Departemente van Kleinsake-ontwikkeling, en Handel, Nywerheid en Mededinging ook KMMO’s om toegang tot groter plaaslike en nasionale markte te verkry.

Verdere steun word ontvang vanaf sterk vervaardigingsondersteuningsprogramme.

In verlede jaar se SoNA het ek gesê dat ons visie vir nywerheidsontwikkeling gesteun word deur sektormeesterplanne wat daarop gemik is om sleutelbedrywe te vernuwe en te groei.

Vier meesterplanne wat tot dusver voltooi en afgeteken is – as deel van die maatskaplike ooreenkomste tussen arbeid, handel, die staat en gemeenskappe – het reeds ’n impak in hul onderskeie bedrywe getoon.

Met die implementering van die Pluimveemeesterplan het die bedryf R800 miljoen belê om produksie op te gradeer. Dit het gelei tot ’n toename van een miljoen kuikens per week.

Die Suikermeesterplan is tydens die inperkingstydperk onderteken, waar groot gebruikers van suiker hul verbind het om minstens 80% van hul suikeraankope vanaf plaaslike verbouers te verkry.

Met die implementering van hierdie plan het plaaslike produksie verlede jaar ’n styging getoon, terwyl suikerinvoere gedaal het. Dit het stabiliteit verseker in ’n bedryf met nagenoeg 85 000 werknemers.

Steun vir swart kleinskaalse boere word verbeter, met ’n groot koeldrankprodusent wat hom daartoe verbind het om verkryging vanaf hierdie boere aansienlik te vergroot.

Sedert die ondertekening van die meesterplan vir klere, tekstiele, skoene en leer in November 2019, het die bedryf meer as ’n halfmiljard rand belê om plaaslike vervaardigingsfasiliteite, insluitend KMMO’s, uit te brei.

Ons het ten nouste met die motorvervaardigingsbedryf saamgewerk om te verseker dat die bedryf die pandemie die hoof kon bied.

Teen die einde van die jaar het die sektor naastenby 70% van sy normale jaarlikse produksie onder moeilike omstandighede herwin.

Verlede week het die Ford Motor Company ’n belegging van R16 miljard aangekondig om hul vervaardigingsfasiliteit in Tshwane uit te brei vir die produksie van die volgende-generasie Ford Ranger-bakkie.

Hierdie belegging sal die groei van ongeveer 12 klein en mediumgrootte sake-ondernemings in die motorvervaardigingsbedryf steun.

Naastenby die helfte van die verkrygingsbesteding aan die konstruksie van die massa-grondwerke en topstrukture by die Tshwane Spesiale Ekonomiese Sone gedurende hierdie fase sal na verwagting aan KMMO’s toegeken word – ’n bedrag gelykstaande aan R1.7 miljard in verkrygingsgeleenthede.

Toyota het in sy KwaZulu-Natal-fasiliteit belê sodat daar begin kan word met die produksie van die eerstegenerasie- hibriede elektriese voertuie wat van ’n Suid-Afrikaanse monteerband afkomstig is.

Dit volg op aankondigings deur Nissan, Mercedes-Benz en Isuzu oor beleggings om produksiefasiliteite in Suid-Afrika uit te brei, wat Suid-Afrika se posisie as ’n rolspeler in die globale motorvervaardigingsmark versterk.

Vanjaar gaan ons daarop fokus om die bedryf weer op volle produksiekapasiteit te kry, die Swartnyweraarsfonds te implementeer en daaraan werk om ’n nuwe platform te skep vir die uitbreiding van die motorvervaardigingsbedryf saam met die res van die vasteland.

Dit sal deel vorm van ons daadwerklike pogings om die vervaardigingsbedryf ’n hupstoot te gee.

Vanjaar wil ons begin gebruik maak van die geleenthede wat spruit uit die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA), wat op 1 Januarie tot stand gekom het, na aanleiding van die aanvaarding van die Johannesburg Verklaring deur die AU.

Die AfCFTA verskaf ’n platform aan Suid-Afrikaanse sake-ondernemings om uit te brei na markte regoor die vasteland en vir Suid-Afrika om haar as ’n poort tot die vasteland te posisioneer.

Om die diepe ongelykhede in ons samelewing te help oplos, moet ons die implementering van Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BSEB)-beleide rakende eienaarskap, beheer en bestuur van die ekonomie bespoedig.

Die staat het verlede jaar ingestem tot mylpaalooreenkomste met maatskappye wat B-BSEB gaan bevorder deur eienaarskap aan hul werkers oor te dra.

In November verlede jaar het ons ons derde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie gehou om die implementering van vorige verbintenisse te hersien en nuwe beleggings in ons ekonomie te genereer.

Selfs onder die moeilike ekonomiese omstandighede het die konferensie R108 miljard in bykomende beleggingsverbintenisse verkry.

Tesame met die beleggings wat by die vorige twee konferensies bevestig is, het ons nou sover R773 miljard in beleggingsverbintenisse, as deel van die mikpunt van R1.2 triljoen oor ’n tydperk van vyf jaar.

Firmas het ons in kennis gestel dat sowat R183 miljard van hierdie beleggings alreeds in projekte tot voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie gestort is.

Dit dien as bewys dat ons land steeds ’n aantreklike beleggingsbestemming vir beide plaaslike en oorsese maatskappye is.

Ons het daaraan gewerk om beleggings in die land aan te moedig deur dit makliker te maak om besigheid te doen, insluitend om dit makliker te maak om ’n besigheid te begin.

In die afgelope jaar is meer as 125 000 nuwe maatskappye geregistreer deur die BizPortal-platform, waar mense binne ’n kwessie van ’n paar uur ’n eie besigheid kon registreer vanuit die gerief van hul eie huis of kantoor.

Ons maak dit makliker vir besighede om sake te doen.

Ons derde prioriteitsingryping is stimulus vir indiensname, met die oog op werkskepping en die ondersteuning van mense se lewensbestaan.

Die meerderheid van die werkskepping sal in ’n aantal bedrywe in die privaatsektor plaasvind namate die ekonomie herstel.

Ons bly werk binne ’n maatskaplike kompak met die privaatsektor om ’n omgewing te skep wat meer bevorderlik is vir werkskepping.

Ons ooreenkoms met die privaatsektor word gesteun deur ’n duidelike verbintenis tot werkskepping en om ons ekonomie te groei.

Die openbare sektor het egter ’n verantwoordelikheid om werkskepping te stimuleer deur beide beleid en direkte werkskeppingsgeleenthede.

Die Presidensiële Stimulusprogram vir Werkskepping is een van die mees noemenswaardige uitbreidings van openbare en maatskaplike werkskepping in Suid-Afrika se geskiedenis.

Teen die einde van Januarie 2021 is daar reeds meer as 430 000 werksgeleenthede deur hierdie stimulus gesteun.

’n Verdere 180 000 werksgeleenthede is tans in die werwingsproses.

Hierdie werksgeleenthede is in areas soos onderwys, kuns en kultuur, internasionale handelsdienste, vroeë kinderontwikkeling (VKO), asook kleinskaalse en bestaansboerderye.

Dit behels omgewingsprogramme soos die verwydering van indringerbome, vleilandrehabilitasie, brandvoorkoming, en die skoonmaak en vergroening van munisipaliteite.

Hierdie programme raak gewone mense se lewens en gewone mense se lewensbestaan.

Naastenby ’n halfmiljoen mense ontvang nou ’n inkomste, ontwikkel nuwe vaardighede en dra by tot hul gemeenskap en hul land se ekonomie.

Ons sal voortgaan om werkskepping te steun solank as wat dit nodig is terwyl die arbeidsmark herstel, terwyl ons ook daaraan werk om meer veerkragtige groei in die privaatsektor aan te wakker.

In verlede jaar se SoNA, as reaksie op die groot uitdaging wat ons land in die gesig staar ten opsigte van werkloosheid onder die jeug, het ek aangekondig dat die Nasionale Agentskap vir Jeugontwikkeling en die Departement van Kleinsakeontwikkeling binne 100 dae finansiering- en sakesteun aan 1 000 jong entrepreneurs sou bied.

Alhoewel die program uitgestel moes word weens die beperkinge van die koronavirus, het dit steeds die teiken van 1 000 besighede teen Internasionale Jeugdag op 12 August 2020 bereik.

Dit skep ’n stewige grondslag vir ons pogings om 15 000 beginondernemings teen 2024 te steun.

Verlede jaar het ons gesê dat ons die “National Pathway Management Network” tot stand sou bring om steun en geleenthede te bied aan jongmense regoor die land.

Ek wil elke jong Suid-Afrikaner aanmoedig om aan te sluit by die meer as 1.2 miljoen jongmense wat reeds in die netwerk is en die volgende tree neem na ’n beter toekoms.

Een van die moeilikste ervaringe wat ons die afgelope jaar moes oorkom, is die druk wat op leerders, onderwysers en gesinne geplaas is weens die onderbreking in die skooljaar.

Ten spyte hiervan het hulle uitgehou en aangehou.

Dit is vanjaar ’n prioriteit om verlore tyd in te haal en ons opvoedkundige uitkomste te verbeter, van die laer jaargroepe tot op hoërskoolvlak, en ook naskoolse onderwys en opleiding.

Die vierde prioriteit van die Ekonomiese Heropbou-en-Herstelplan is om ons energie-opwekkingskapasiteit vinnig uit te brei.

Om Eskom operasioneel en finansieel weer op die been te bring en die staatsliggaam se herstruktureringsproses te bespoedig, is hiervoor van die uiterste belang.

Eskom is herstruktureer na drie aparte entiteite – kragopwekking, transmissie en verspreiding. Dit sal die grondslag lê vir ’n doeltreffende, moderne en mededingende energiestelsel.

Eskom maak aansienlike vordering met sy intensiewe onderhouds- en operasionele uitmuntendheidsprogramme om die betroubaarheid van sy steenkoolvloot te verbeter.

Ons werk ten nouste saam met Eskom oor voorstelle om sy finansiële posisie te verbeter, skuld te bestuur en afhanklikheid van die fiskus te verminder.

Dit vereis ’n hersiening van die tariefplan om te verseker dat dit alle redelike koste en maatreëls dek om die probleem van munisipale skuld op te los.

In Desember 2020 het die staat en sy maatskaplike vennote die geskiedkundige Eskom Maatskaplike Kompak onderteken; hierdie ooreenkoms omskryf die stappe wat ons moet onderneem, gesamentlik en as individuele belanghebbers, om in die land se energiebehoeftes te voorsien, nou en in die toekoms.

Die afgelope jaar het ons stappe gedoen om energie-opwekkingskapasiteit dringend en noemenswaardig te verhoog, bykomend tot dié van Eskom:

  • Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie sal binnekort die suksesvolle aanbiedinge vir die 2 000 megawatt (MW) noodkrag aankondig.
  • Die nodige regulasies is aangepas en die vereistes is uitgeklaar vir munisipaliteite om krag vanaf onafhanklike kragverskaffers te koop. Stelsels word tans in plek gestel om kwalifiserende munisipaliteite te steun.
  • Die staat sal binnekort die verkryging van ’n bykomende 11 800 MW krag vanaf hernubare energie, natuurlike gas, battteryberging en steenkool met die Geïntegreerde Hulpbronplan 2019 belyn.

Ten spyte van hierdie stappe beraam Eskom dat, sonder bykomende kapasiteit, daar ’n elektrisiteitstekort van tussen 4 000 MW en 6 000 MW oor die volgende vyf jaar gaan wees wanneer ou steenkoolkragstasies die einde van hul leeftyd bereik.

As deel van die maatreëls om hierdie tekort aan te vul, sal ons in die komende weke ’n versoek om aansoeke uitreik vir 2 600 MW se wind- en sonkrag as deel van bodvenster 5.

Dit sal gevolg word deur nog ’n bodvenster in Augustus 2021.

Onlangse ontledings het getoon dat ’n verslapping in die lisensie-vereistes vir nuwe vasgelegde kragopwekkingsprojekte tot soveel as 5 000 MW bykomende kapasiteit kan ontsluit en tot die verligting van beurtkrag kan bydra.

Ons sal dus binne die volgende drie maande Skedule 2 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit (Wet 4 van 2006) aanpas om die lisensiëringdrempel vir geïnkorporeerde kragopwekking te verhoog.

Dit sal insluit konsultasie met kernbelanghebbendes rakende die vlak waarop die nuwe drempel gestel moet word en die finalisering van die nodige raamwerke om dit moontlik te maak.

Eskom het reeds begin om sy kommersiële en tegniese prosesse te bespoedig ten einde hierdie bykomende kapasiteit sonder versuim op die kragnetwerk te akkommodeer.

Met die mobilisering van al die hulpbronne tot ons beskikking, moet ons egter nie vergeet van die bedreiging wat klimaatsverandering vir ons omgewingsgesondheid, sosio-ekonomiese ontwikkeling en ekonomiese groei inhou nie.

Ons werk dus steeds daaraan om ons verbintenisse ingevolge die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering en die Parys-ooreenkoms na te kom, wat die vermindering van kweekhuisgasse insluit.

Eskom, ons grootste vrysteller van kweekhuisgas, het hom in beginsel verbind tot netto kweekhuisgasuitlatings teen 2050 en om sy hernubare kapasiteit te verhoog.

Eskom sal vennootskappe met beleggers aangaan om ’n deel van sy steenkoolvloot vir nuwe aanwendings en alternatiewe energiebronne aan te pas. Dit sal op so ’n manier gedoen word dat dit belegging, plaaslike ekonomiese aktiwiteite en plaaslike vervaardiging stimuleer, as deel van ’n regverdige oorgang.

Ons werk aan klimaatsverandering sal deur die Presidensiële Kommissie vir Klimaatsverandering gelei word, wat vandeesmaand vir die eerste keer vergader.

Die kommissie sal aan ’n plan werk vir die regverdige oorgang na ’n lae-koolstofekonomie en ’n klimaatveerkragtige samelewing.

Ons sal nooit hoër groeivlakke en werkskeppingsvlakke bereik as ons nie strukturele ekonomiese hervorming implementeer nie.

Hierdie ekonomiese hervorming is noodsaaklik om koste van en versperrings tot toegang te verminder, mededinging te verhoog, nuwe beleggings te stimuleer en plek vir nuwe toetreders tot die mark te skep.

Hierdie werk word gedryf deur Operasie Vulindlela, waarby 'n span in die Presidensie en die Nasionale Tesourie betrokke is.

Operasie Vulindlela fokus op ekonomiese hervorming in die energie-, water-, vervoer- en telekommunikasiesektor, asook hervorming van ons visa- en immigrasie-regime.

Die voltooiing van digitale migrasie is noodsaaklik sodat die reusegeleenthede wat deur tegnologiese vooruitgang moontlik gemaak word, benut kan word.

Na talle vertragings gaan ons volgende maand met die stelselmatige afskakeling van ons analoog-televisieseintoestelle begin.

Daar word verwag dat die proses, wat van provinsie tot provinsie geïmplementeer sal word, teen die einde van Maart 2022 voltooi sal wees.

Die proses vir die lisensiëring van hoë-aanvraagspektrum is in ’n gevorderde stadium.

Ons hoop dat die voortdurende litigasie betreffende die kwessie van lisensiëring regsekerheid sal bring en nie die spektrumveilingsproses onnodig sal vertraag nie.

In die watersektor werk ons deur middel van Operasie Vulindlela om te verseker dat aansoeke om waterlisensies gefinaliseer sal word binne die aangepaste tydsraamwerk van 90 dae, en om die “Green Drop”- en “Blue Drop”-programme te laat herleef om deeglike en doeltreffende watergehaltemonitering te versterk.

Ons sal die aangepaste Onbehandeldewaterprysstrategie finaliseer en implementeer, en die vestiging van ’n nasionale waterhulpbroninfrastruktuuragentskap versnel.

Ons vermoë om in wêreldmarkte mee te ding, berus op die doeltreffendheid van ons hawens en spoorwegnetwerk.

Ons is tans besig om Durban te herposisioneer as ’n spilpunt vir die suidelike halfrond en Nqura as die voorkeurvraghouer-terminaal te ontwikkel.

Die spoorwegpyplyn vanaf Gauteng word verleng om die uitvoer van voertuie deur Port Elizabeth moontlik te maak.

Hierdie is noodsaaklike stappe om vragvervoer vanaf die pad- na die spoorwegstelsel te verskuif en die mededingendheid van die spoorwegstelsel te verhoog.

Werk is aan die gang in die betrokke departemente om ons visa-en-immigrasiebestel te hervorm om vaardighede te lok en die toerisme-sektor te groei.

Namate internasionale reise na afloop van die COVID-19-pandemie hervat word, gaan ons ’n program van e-visas aan besoekers van Sjina, Indië, Nigerië, Kenia en 10 ander lande ten volle implementeer.

Die hersiene lys van kritiese vaardighede sal binne een week vir openbare kommentaar deur die Departement van Binnelandse Sake gepubliseer word, om te verseker dat die finale weergawe die vaardighede wat ons ekonomie benodig, akkuraat weerspieël.

Die momentum wat Operasie Vulindlela reeds opgebou het en die steun wat dit van regoor die regering ontvang het, toon dat ons ernstig is oor hervorming.

Ons sal onvermoeid en onverpoosd bly werk om ’n meer moderne, doeltreffende en mededingende ekonomie te skep wat toeganklik is vir alle Suid-Afrikaners.

Om ons hervormingsproses te steun, het die Presidensiële Raad vir Ondernemings in Staatsbesit (PSEC) ’n duidelike stel hervormingsmaatreëls uiteengesit, wat hierdie noodsaaklike openbare maatskappye in staat sal stel om hul mandaat vir groei en ontwikkeling te vervul.

Oorkoepelende wetgewing vir ondernemings in staatsbesit sal tydens hierdie finansiële jaar in die Kabinet ter tafel gelê word, en in die Parlement tydens die volgende finansiële jaar.

’n Gesentraliseerde SOE-model word gedurende hierdie finansiële jaar geïmplementeer, wat ’n gestandaardiseerde staatsbestuur-, finansiëlebestuur- en operasionele prestasieraamwerk vir alle SOE’s sal verseker.

Die mandate van al die SOE’s word tans herevalueer om te verseker dat hulle op die land se behoeftes asook die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan reageer.

Te midde van die ekonomiese skade wat deur COVID-19 aangerig word, het Suid-Afrika se landbousektor merkwaardig goed presteer.

In 2020 het ons die wêreld se tweede grootste uitvoerder van sitrus geword, met sterk uitvoere ook in wyn, mielies, neute, sagtevrugte en suikerriet.

Die gunstige weersomstandighede in 2020 en aan die begin van 2021 beteken dat die landbou bes moontlik in die kort termyn groei sal toon.

Dit verskaf ’n geleentheid vir verdere openbare en private vennootskappe in die landbou om transformasie te bevorder en volhoubare groei te verseker.

Dit is ’n geleentheid bied om die herverdeling van grond te versnel deur ’n verskeidenheid instrumente soos restitusie en die onteiening van grond om landbou-uitsette te verhoog.

Tot op hede het die staat meer as vyf miljoen hektaar (ha) land – meer as 5 500 plase – onder meer as 300 000 begunstigdes herverdeel.

Dit is bykomend tot die grondrestitusieproses, wat meer as twee miljoen grondeisers bevoordeel het en gelei het tot die oordrag van rondom 2.7 miljoen hektaar

Ons volg ook programme na om kleinskaalse en opkomende boere te help met marktoegang, om vaardighede regoor die landbouwaardeketting te ontwikkel en om die aantal kommersiële swart boere te verhoog.

Ons beoog om gedurende die volgende finansiële jaar ’n agentskap vir grond- en landbouhervorming te stig om grondhervorming te versnel.

Die staatsdiens is  die aktiewe implementeringsliggaam van die regering en ’n gebrek aan professionaliteit het nie net ’n impak op dienslewering nie; dit knou ook die publiek se vertroue.

Die bevordering van eerlikheid, etiek en integriteit in die staatsdiens is van sleutelbelang as ons ’n bekwame staatsdiens wil bou.

Deur middel van die Nasionale Regeringskool bied ons voortdurend kursusse en opleidingsprogramme aan vir staatsamptenare, vanaf intreevlak tot op senior bestuursvlak asook vir die uitvoerende raad.

In Oktober verlede jaar het ek ministeriële prestasie-ooreenkomste met al die ministers onderteken; hierdie ooreenkomste is nou aanlyn gepubliseer.

Dit sal verantwoordbaarheid en gefokusde prestasie deur lede van die uitvoerende raad verbeter.

Ons is steeds op koers om ’n bekwame en professionele staatsdiens te bou, wat hul mandaat vervul en teenoor die Suid-Afrikaanse volk aanspreeklik is.

Ons gaan voort met ons pogings om die plaaslike regeringsinfrastruktuur te versterk en dienslewering deur middel van die distriksontwikkelingsmodel te versnel.

Dié model bring al drie regeringsfere tesame om op die sleutelprioriteite en implementering van kritiese, hoë-impakprojekte te fokus.

Saam met beide openbare en privaatsektorvennote implementeer die staat ’n verskeidenheid maatreëls om munisipaliteite te steun om onvoldoende en inkonsekwente dienslewering op te los in areas soos watervoorsiening en die bou en onderhoud van infrastruktuur.

Ons fokus op die aanstelling van behoorlik gekwalifiseerde amptenare op plaaslike vlak om doeltreffende bestuur en die lewering van dienste te verseker.

In ons voorbereiding vir vanjaar se plaaslike verkiesings, gaan ons die toestande waaronder die verkiesings gehou word, moet aanpas by die beperkings wat deur COVID-19 geskep word om te verseker dat ons landsburgers kan kies wie hulle op hierdie kritiese regeringsvlak verteenwoordig.

Mede Suid-Afrikaners

Korrupsie is een van die grootste struikelblokke tot die land se groei en ontwikkeling.

Die onthullings deur die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staatskaping bring die volle omvang van staatskaping en gepaardgaande korrupsie aan die lig.

Getuienis by die kommissie het getoon hoe die strafregstelsel verswak en onder verdenking gebring is.

Dit is dus van kardinale belang dat ons die momentum behou van die herbou-poging waarmee ons drie jaar gelede begin het.

Daar was al groot vooruitgang met die omkeer van wetstoepassingsliggame.

Kritieke leierskapsposisies is deur bekwame, ervare en betroubare professionele persone gevul.

Samewerking en die deel van hulpbronne tussen die onderskeie wetstoepassingsagentskappe het verbeter, wat lei tot ’n meer geïntegreerde benadering tot ondersoeke en vervolgings.

Ons het begin om die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad te implementeer, wat die grondslag lê vir ’n omvattende en geïntegreerde samelewingswye reaksie op korrupsie.

Ons sal binnekort lede op die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad aanstel, wat ’n multi-sektorliggaam is wat toesig sal hou oor die aanvanklike implementering van die strategie en die instelling van ’n onafhanklike statutêre teenkorrupsieliggaam wat aan die Parlement rapporteer.

Toe gerugte oor moontlike bedrog en korrupsie in die verkryging van KOVID-19-verwante goedere en dienste verlede jaar die rondte begin doen het, het ons beslissend opgetree om sulke praktyke stop te sit, alle aantyging te ondersoek en teen die skuldige partye op te tree.

Ons het ’n koalisiesentrum gevestig wat al die kern-wetstoepassingsagenstkappe byeen bring om inligting en hulpbronne te deel.

Hierdie sentrum het reeds talle sake voor die hof gebring, en miljoene rande in openbare fondse is bewaar of herwin.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) het magtiging verkry om aantygings van onwettige optrede met betrekking tot COVID-19-verkryging deur alle staatsliggame tydens die nasionale ramptoestand te ondersoek.

Soos verlede week berig is, het die SIU ondersoeke na 164 kontrakte, ter waarde van altesaam R3.5 miljoen, voltooi.

’n Noemenswaardige stap ter bevordering van deursigtigheid en verantwoordbaarheid is dat die Wet op Politiekepartybefondsing, 2018 (Wet 6 van 2018), op 1 April vanjaar in werking tree.

Dit sal openbare en privaat befondsing van politieke partye reguleer. Dit vereis onder andere die openbaarmaking van skenkings aan politieke partye en stel twee fondse in, wat politieke partye met verteenwoordiging in staat sal stel om hul programme te onderneem.

Misdaad en geweld ondermyn steeds mense se gevoelens van veiligheid en sekuriteit.

Die bestryding van misdaad lê ten grondslag aan die sukses van ons herstel.

Misdaad soos kabeldiefstal, spoorweginfrastruktuurvandalisme, grondonteiening, ontwrigting op boupersele en aanvalle op vragmotorbestuurders belemmer ekonomiese aktiwiteite en ontmoedig beleggings. 

Ons het stappe gedoen en sal aanhou om hierdie misdade te beveg en die skuldiges geregtelik te vervolg.

Taakmagte is in ’n aantal provinsies op die been gebring om afpersing en geweld op plekke van ekonomiese aktiwiteite te hanteer.

Ons het ook die implementering en instaatstelling van die Grensbestuursagentskap versnel om onwettige immigrasie en oorgrensmisdaad te bekamp.

Dit is van die uiterste belang dat ons geslagsgebaseerde geweld beëindig indien ons daarop aanspraak wil maak dat ons samelewing in gelykheid en nie-seksisme geanker is.

Toe ek die Nasionale Strategiese Plan oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV) in April verlede jaar geloods het, het ek ’n belofte gemaak aan die vroue en kinders van ons land dat ons die strafregstelsel sou versterk om te verhoed dat hulle weer getraumatiseer word en om te verseker dat skuldiges gestraf sal word.

Om hieraan gevolg te gee, is drie sleutelstukke wetgewing verlede jaar in die Parlement ter tafel gelê om die strafstelsel in staat te stel om GGG meer doeltreffend te beveg.

Om seker te maak dat skuldiges gestraf word, maak ons goeie vordering om die agterstand in GGG-sake in te haal.

Ons sal aanhou om aan mense wat GGG oorleef het, sorg en steun te verskaf.

In laasjaar se SoNA het ek gesê dat ons die ekonomiese bemagtiging van vroue sou prioritiseer.

Verlede jaar het die Kabinet ’n beleid goedgekeur dat 40% van alle openbare verkryging aan ondernemings en entiteite in vrouebesit toegewys sou word.

Verskeie departemente het reeds hierdie beleid begin implementeer en daar word vordering daarmee gemaak.

Verlede week het ons ook die innoverende GGGV-reaksiefonds (“GBVF Response Fund”) onder leiding van die privaat sektor geloods.

Verskeie Suid-Afrikaanse maatskappy en wêreldwye filantropiese organisasies het finansiële verbintenisse gemaak ter waarde van altesaam R128 miljoen.

Oor die volgende drie jaar sal die staat nagenoeg R12 miljard daaraan toewys om die verskillende komponente van die Nasionale Strategiese Plan te implementeer.

GGG sal slegs beëindig word wanneer almal verantwoordelikheid daarvoor aanvaar in hul huise, hul gemeenskappe, hul werksplekke, hul plekke van aanbidding en in hul skole.

Insgelyks moet ons ook aandag skenk aan kwessies wat kinders raak, insluitend verbeterde skoolgereedheid, VKO-beplanning en -befondsing, beskerming teen voorkombare siektes, beleidshervorming rakende kinderwelsyn en die bekamping van geweld teen kinders.

In die komende jaar gaan ons voortgaan met pogings om meer geleenthede aan mense met gestremdhede te bied vir deelname aan die ekonomie en aan die samelewing oor die algemeen.

Namate ons ons ekonomie te midde van ’n pandemie herbou, is dit van die uiterste belang dat ons aanhou – binne ons vermoëns – om die sake-ondernemings en individue wat die swaarste geraak word, te ondersteun.

Sake-ondernemings is veral sekere sektore sukkel steeds en baie families kry steeds swaar terwyl die arbeidsmark stadig herstel.

Die laaste paar maande het ons deurlopende gesprekke gevoer met ons maatskaplike vennote in die handel-, arbeids- en gemeenskapsgebaseerde organisasies, wat ’n verlenging van sommige van die maatskaplike en ekonomiese steunmaatreëls voorgestel het.

Ons het gevolglik besluit om die tydperk vir die spesiale COVID-19-toelae met ’n verdere drie maande te verleng.

Dit is bewys as ’n doeltreffende korttermynmaatreël om die onmiddellike impak op die lewensbestaan van arm Suid-Afrikaners te verminder.

Ons het ook besluit om die betaling van COVID-19-Ters-voordele met drie maande te verleng tot 15 Maart 2021; maar slegs in sektore wat nog nie kon heropen of ten volle operasioneel is nie.

Die voorwaardes van hierdie verlenging en die sektore wat geraak word, sal aangekondig word na afloop van konsultasie met ons met maatskaplike vennote by NEDLAC.

Die Nasionale Tesourie sal ook saam met sy vennote en belanghebbendes werk aan verbeteringe aan die Leningwaarborgskema sodat dit die realiteite van KMMO’s en ander sake-ondernemings tydens hul herstelproses beter in ag kan neem.

Ons sal saam met ons maatskaplike vennote werk om te verseker dat hierdie en ander ingrypings verligting bring aan diegene wat dit die nodigste het.

Mede Suid-Afrikaners

Net soos die ongenaakbare vuur wat nuwe lewe gee aan ons land se fynbos, is hierdie krisis ’n geleentheid om lewe te gee aan ’n nuwe, beter Suid-Afrika.

Om ons land te herbou, gaan ’n groepspoging verg.

Dit sal vereis dat alle Suid-Afrikaners verantwoordelikheid aanvaar en hul rol speel.

Laat ons as staat, as die sakesektor, as arbeid, as politieke partye en as die hele samelewing saamwerk om die rommel uit die weg te ruim en ’n nuwe fondasie te lê.

Bowenal, laat ons hierdie land laat terugkeer na die waardes waarop dit geskoei is.

Op die dag wat hy vrygelaat is, 31 jaar gelede, het Madiba sy eerste openbare toespraak hier in Kaapstad gelewer, waartydens hy Suid-Afrikaners daaraan herinner het dat daar moeilike dae voorgelê het, en dat die stryd nog glad nie verby was nie.

Madiba het gesê:

“Nou is die tyd om die vryheidstryd op alle fronte te versterk.”

“Om nou ons pogings te verslap, sal ’n fout wees wat die komende geslagte ons nooit sal kan vergeef nie.”

As ons kyk na die groot verliese wat ons as samelewing die afgelope jaar gely het, is dit maklik om moed te verloor.

Maar ons kan hierdeur kom. Want ons is ’n volk van helde.

Ek verwys nie na die helde van die vryheidstryd nie, maar na die alledaagse helde wat onder ons is, wat elke dag hard werk om kos op die tafel te sit, om die besigheid aan die gang te hou, om ondersteuning, hulp en sorg aan ons mense te bied.

Dit is julle veerkragtigheid wat hierdie land sal help herstel.

Benewens die vele uitdagings waarvoor ons mense te staan kom, het ons verneem dat sy Majesteit Koning Goodwill Zwelithini die afgelope paar dae ongesteld was en dat hy in die hospitaal opgeneem is.

Ek dra graag ons wense vir ’n spoedige herstel oor aan sy Majesteit Koning Goodwill Zwelithini ka Bhekuzulu.

Ons hou die Koninklike Huis en die Zoeloe-nasie in ons gedagtes en gebede in hierdie tyd.

Dit is ons almal se wens dat Isilo Samabandla Wonke binnekort weer gesond sal wees.

Terwyl ons voorberei vir die moeilike pad wat voorlê, kan ons krag put uit Maya Angelou se wonderlike gedig, “Still I Rise”.

Sy skryf:

Out of the huts of history’s shame
I rise
Up from a past that’s rooted in pain
I rise
I’m a black ocean, leaping and wide,
Welling and swelling I bear in the tide.

Leaving behind nights of terror and fear
I rise
Into a daybreak that’s wondrously clear
I rise
Bringing the gifts that my ancestors gave,
I am the dream and the hope of the slave.
I rise I rise I rise.

Suid-Afrikaners, dit is julle land wat julle vandag vra om te herrys.

Kom ons stap saam vorentoe op die pad na gelykheid, na groei, na waardigheid en na herstel.

Mag God Afrika seën en haar seuns en dogters beskerm.

Ek dank u.